Orania Volksliedkompetisie
Orania het ‘n volkslied gekry!
Op 27 Februarie 2025, tydens Majubadagvieringe in Orania, is die wenners van die Volksliedkompetisie aangekondig:
Geluk aan die Murphy-gesin van Orania met hulle inskrywing Roepstem van Orania. Hulle inskrywing het beide die liriekekompetisie sowel as die melodiekompetisie gewen!
Beide melodie en lirieke is wel aangepas in die proses tot skepping van die uiteindelike weergawe hieronder beskikbaar. Ons gee graag erkenning aan die paneel van Oraniërs wat saam met die kompetisiekomitee gewerk het. Ons is ook dank verskuldig aan die kundiges wat ons as adviseurs bygestaan het: Daniël Hugo, Anton Esterhuyse en Gisela de Villiers.
Roepstem van Orania
Uit die hoeke van ons land en volk
lê spore oor ons grond –
God Drie-enig roep ons saam
ter ere van sy grote Naam.
‘n Vrye volk het opgestaan
op die pad na Orania.
Orania, Orania!
Met hande in die grond en moue opgerol
bou Hy, bou ek, bou ons aan jou:
ons sal self, Orania.
Op die koppie staan ons eie reus,
hy’s klein maar leer ons werkersgees.
Ons vryheidstrewe snoer ons saam;
graveer in klip ‘n nuwe naam.
Ons volk het eind’lik tuisgekom –
verenig Orania.
Orania, Orania!
Met hande in die grond en moue opgerol
bou Hy, bou ek, bou ons aan jou:
ons sal bid, Orania;
ons sal bou, Orania;
ons vir jou, Orania!
Laai dit af en gebruik dit:
Die teks, musiek en ander materiaal word vrylik beskikbaar gemaak vir gebruik sonder verandering. Kopiereg: Orania Kunsteraad.
Hoekom ‘n volkslied vir Orania?
Orania is ‘n selfstandige Afrikanergemeenskap met ‘n dwingende drang en strewe na volksvryheid. As gemeenskap beywer Oraniërs ons daarvoor om binne die raamwerk van groeiende selfbeskikking onsself vry te werk. Anders as meeste ander pogings is Orania se model van Afrikanerselfbeskikking ‘n baie praktiese benadering. Tog is die simboliese ook baie belangrik. Oor die afgelope 31 jaar het Orania ook sekere simbole kon vestig; simbole wat so eie en tipies aan Orania is dat dit al wêreldbekendheid verwerf het. Binne hierdie konteks dink ons aan die Klein Reus, die Orania-vlag en die Ora. Nou is ook die behoefte aan ‘n Oranialied uit verskeie geledere geopper en Orania Kunsteraad (OKeR) is genader om die proses te fasiliteer.
Wanneer mens die komponering van ‘n volkslied indringend bepeins en bespreek, word dit baie gou voor die hand liggend dat enige mooi lied nie sal deug nie. Eerstens moet die lied die hart en siel van Orania vasvang, dan moet dit ook ‘n tydlose meesterstuk uit ‘n spesifieke genre wees wat gemaklik deur groot groepe mense gesing kan word.


BORGE
Glansborge



Uithalerborge



Staatmakerborge





