Orania Volkslied Kompetisie
Orania kort ‘n volkslied!
Is jy goed met woorde? Kan jy ‘n mooi melodie komponeer? Maak die Afrikaner se vryheidsideaal jou opgewonde? Raak ‘n pragtige volkslied jou hart aan? (Dink aan Die Stem van Suid-Afrika, Flower of Scotland, Ireland’s call, Die lied van Jong Suid-Afrika.)
RONDTES
Rondte 1 – Lirieke kompetisie
Lirieke vir ‘n volkslied word tans ingewag. Inskrywings sluit 1 Mei 2023. Hierdie rondte is slegs vir lirieke.
Rondte 2 – Melodie kompetisie
Wen lirieke word 31 Mei 2023 bekend en beskikbaar gestel vir komponiste om ‘n melodie te skryf. Open 14 Augustus 2023 en sluit 6 April 2024
PRYSGELD
R10 000 vir die wengedig/-lirieke en
R10 000 vir die wenmelodie.
Beide wenners word 10 Oktober 2024 bekendgemaak.
INSKRYWINGSGELDE
Rondte 1 – R250 per gedig/lirieke
Rondte 2 – (Melodiekompetisie open eers 14 Augustus 2023 en die inskrywingsgeld sal ook R250 per melodie wees)
Hoekom ‘n volkslied vir Orania?
Kompetisiereëls
- Die doel van hierdie kompetisie is om ‘n ‘Orania-volkslied’ saam te stel en wat amptelik voortaan deur Orania sodanig gebruik sal word.
Algemeen
- Die organiseerder van die kompetisie is Orania Kunsteraad (OKeR). Deur aan hierdie kompetisie deel te neem stem die deelnemer in dat die reëls van die kompetisie op hom of haar van toepassing is.
3. Die kompetisie bestaan uit twee afdelings naamlik:
3.1 Rondte 1: Lirieke (die woorde van die Orania-volkslied)
3.2 Rondte 2: Melodie (die melodie van die Orania-volkslied)
4. Die organiseerder behou die reg voor om, indien daar na sy mening te min inskrywings ontvang is, of as die standaard van inskrywings nie hoog genoeg is nie, geen wenner aan te wys nie.
5. Die organiseerder behou die reg voor om die kompetisiereëls ter eniger tyd aan te pas of die kompetisie te kanselleer, as dit volgens sy oordeel nodig is of as gevolg van omstandighede buite sy beheer.
6. Alle inskrywings moet die deelnemer se eie werk wees en sal enige plagiaat, of verwante oortreding, die inskrywing diskwalifiseer.
7. Inwoners sowel as nie-inwoners van Orania kan aan die kompetisie deelneem.
8. Om die anonieme aard van die beoordeling te verseker en om penalisasie te voorkom word aanbeveel dat die gedig/lirieke wat u inskryf nie vir die duur van die kompetisie op enige sosiale media of enige ander media-platform gedeel word nie.
Eiendomsreg
9. Alle inskrywings (lirieke en melodie) word die eiendom van die organiseerder sodra dit ingeskryf word en stem die deelnemer in, sou die deelnemer se inskrywing wen, dat die inskrywing sal deel uitmaak van Orania se toekomstige volkslied.
10. Die organiseerder behou die reg voor om aanpassings of wysigings aan die melodie of die lirieke te maak.
11. Geen tantieme sal betaal word nie.
Datums
12. Inskrywings word vanaf 27 Januarie 2023 ingewag.
13. Alle inskrywings vir lirieke moet voor of op 1 Mei 2023, 23:59 ontvang word. Geen laat inskrywings kan oorweeg word nie.
14. Die finaliste vir rondte 1 (lirieke) sal op 31 Mei 2023 aangekondig word. Dit behels dat tot en met vyf finaliste (afhangende van die kwaliteit van inskrywings) aangekondig word en hulle toepaslike lirieke bekendgemaak sal word. Dit word deurgegee om die volgende Rondte te fasiliteer. Deelnemers sal op die webwerf van die uitslag in kennis gestel word, maar sal publikasie ook soos nodig in die media geskied.
15. Rondte 2 word 14 Augustus 2023 bekendgestel. Die finaliste se lirieke word beskikbaar gestel sodat komponiste kan kies op watter lirieke hulle ‘n melodie wil skryf.
Inskrywings
16. Inskrywings vir Rondte 1 word op die webwerf gedoen en moet u gereed wees om die lirieke op die webwerf te laai.
17. Daar is geen beperking op die hoeveelheid inskrywings wat ‘n persoon kan inskryf nie.
Inskrywingsfooie
18. ’n Inskrywingsfooi van R250 per inskrywing sal gehef word.
Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting
19. Die wenners se name en vanne sal bekend gemaak word en gee tesame met hul inskrywing aan die organiseerder die nodige toestemming daarvoor. Enige ander persoonlike inligting word slegs deur die organiseerder ontvang, gebruik en bewaar en nie aan derde partye beskikbaar gestel nie.
20. Die finaliste se lirieke sal beskikbaar gestel word om die volgende rondte te fasiliteer. Soos vermeld mag die organiseerder, indien nodig, van die lirieke wysig.
Beoordeling
21. ‘n Paneel beoordelaars oorweeg alle inskrywings.
22. Die inskrywings sal op ‘n anonieme grondslag beoordeel word. Beoordelaars word nie voorsien van die identiteit van die deelnemer nie en ontvang slegs die lirieke of melodie om te beoordeel.
23. Hoewel die beoordelaars van die hulp van ‘n paneel van kundiges gebruik sal maak, sal die finale besluit oor die wenners van die twee afdelings van die kompetisie steeds by die organiseerder se Volksliedkomitee (‘die beoordelaars’) berus.
24. Die beoordelaarspaneel bestaan uit:
24.1 Een verteenwoordiger van Orania Aandeleblok (Edms.) Bpk.
24.2 Een verteenwoordiger van Orania Verteenwoordigende Raad
24.3 Een verteenwoordiger van Orania Beweging
24.4 Drie verteenwoordigers van die organiseerder (OKeR)
24.5 ‘n Avstig-pionier van Orania
- Die samestelling van die paneel beoordelaars kan, indien omstandighede dit noodsaak, gewysig word.
- Die beoordelaars se beslissing is finaal en sal die organiseerder geen korrespondensie of enige verdere kommunikasie rakende die uitslag van die beoordelaars voer nie.
Pryse
27. Die prysgeld vir elke afdeling van die kompetisie (te wete Rondte 1: Lirieke (woorde/gedig) en Ronde 2: Melodie) is R10 000.
28. Geen prysgeld sal vir tweede of derde plekke gegee word nie, maar kan die organiseerders wel in die publiek aan hierdie onderskeie plekke, of meer indien nodig, die erkenning daarvoor gee.
29. Prysgeld sal elektronies oorbetaal word. Die wenner van elke rondte sal met die nodige reëlings in die verband gekontak word.
- Die wenner sal genooi word na ‘n amptelike Volkslied-funksie in Orania. Daar kan verwag word dat die wenner ’n CV asook ’n foto van hom- of haarself verskaf.
31. Direkte familie van enige van die beoordelaars sal nie die kompetisie kan wen nie.
Hoekom ‘n volkslied vir Orania?
Orania is ‘n selfstandige Afrikanergemeenskap met ‘n dwingende drang en strewe na volksvryheid. As gemeenskap beywer Oraniërs ons daarvoor om binne die raamwerk van groeiende selfbeskikking onsself vry te werk. Anders as meeste ander pogings is Orania se model van Afrikanerselfbeskikking ‘n baie praktiese benadering. Tog is die simboliese ook baie belangrik. Oor die afgelope 31 jaar het Orania ook sekere simbole kon vestig; simbole wat so eie en tipies aan Orania is dat dit al wêreldbekendheid verwerf het. Binne hierdie konteks dink ons aan die Klein Reus, die Orania-vlag en die Ora. Nou is ook die behoefte aan ‘n Oranialied uit verskeie geledere geopper en Orania Kunsteraad (OKeR) is genader om die proses te fasiliteer.
Wanneer mens die komponering van ‘n volkslied indringend bepeins en bespreek, word dit baie gou voor die hand liggend dat enige mooi lied nie sal deug nie. Eerstens moet die lied die hart en siel van Orania vasvang, dan moet dit ook ‘n tydlose meesterstuk uit ‘n spesifieke genre wees wat gemaklik deur groot groepe mense gesing kan word.
BORGE
Glansborge
Uithalerborge
Staatmakerborge